Hulpbronne in “MP3 Preke”

20150403 Christus bewerk in sy godsverlatenheid die mag om altyd God met sondaars te wees Paasvrydag

Inhoud. Hierdie preek wys op die teenstelling tussen die mag wat Christus as Messias vestig om aan die regterhand van die Vader te sit teenoor die magsdrif van die geestelikes van hierdie wêreld. Die geestelikes sien die Here se oorgawe aan die godverlatenheid van sy Vader as as sy oorgawe aan hulle spirituele mag terwyl die ironies genoeg die magsdaad is waardeur Hy die Here sal wees om sondaars nooit as God ooit te verlaat nie. Hierdie teenstelling tussen wat die Here regtig vermag en wat hulle glo hulle met die Here vermag, gaan oor die teenstelling tussen die mag van die Here en die mag van geestelikes. Die Here skep die mag om God in liefde teenwoordig vir sondaars te wees sodat hulle ook in hulle sonde nooit godverlate sal wees nie. Geestelikes skep die spirituele mag om mense aan hulle geestelikheid te onderwerp en die waan dat hulle mense godverlate kan hanteer. In hierdie geestelike godverlate onderwerping van mense is hierdie spirituele leiers niks anders as die geweldenare van hierdie wêreld wat gelowiges die potskerwe en wurms onder hulle magsgeweld wil maak nie. Christus het juis sy mag so gevestig dat Hy ons in hierdie geweld van geestelikes en goddeloses nooit godverlate sal laat wees nie.

Lees of Aflaai

20150322 Die Gees wat Christus ons gee laat ons in God se vergifnis deel, nie ons geestelike verwagtings of versugtings nie

Inhoud In hierdie preek word die verskil tussen die gees van die moderne Christelikheid en die Heilige Gees wat die Here Jesus aan sy Kerk gee, uitgewys. Die gees van die moderne Christelikheid is ʼn valse gees. Hierdie gees word deur spirituele leiers voorgehou as die gees wat mense se geestelike verwagtings en versugtinge sou vervul. Hy word ook voorgehou as die gees wat mense se versugtinge vervul wanneer hulle die Here loof, prys en met gebede wag op sy vervulling. Die Heilige Gees is die Gees wat die Here aan ongelowige, verwagtinglose en gebedlose dissipels gegee het om getuies van sy lyding en opstanding uit die dood te wees. Daarom is die gees van die moderne Christelikheid die gees van hulle wat Jesus feestelik ontvang het met sy ingang in Jerusalem. Die Heilige Gees is die Gees wat die Here gee aan die dissipels wat bang, depressief, ongelowig en verward in die bokamer weg gekruip het en geen verwagtings meer van Hom gehad nie. Die Heilige Gees gee aan die Kerk van die Here sy vergifnis op grond van sy lyding en opstanding. Hy vervul nie die massas se geestelike versugtinge en verwagtings nie.

Lees of Aflaai

20150315 Christus skep deur sy lyding en opstanding handelvrye aanbidding Openbare belydenis

Inhoud Christus skep tussen ons en God handelvrye aanbidding. Die saak waaroor dit in die Here se tempelreiniging gaan, is nie geldmakery bý die Kerk, of inkry van fondse deur die Kerk nie. Christus maak ’n einde aan die offers wat in die tempel as deel van die Joodse aanbidding van God plaasgevind het. Hulle het in die tempel met God handelgedryf deur hierdie spiritualiteit dat “as ons vir u iets gee, dan gee U weer vir ons iets: ons gee ons self as offer as U ons vergifnis sal gee. Hierdie Joodse spiritualiteit het van God as tuiste vir Sy kinders, ’n tuiste in die liefde, sorg, trou, genade, bewaring en barmhartigheid, ’n handelsbedryf gemaak. Met “huis van die Vader” word bedoel God as tuiste vir Sy kinders in Sy liefde en trou. In die Joodse geestelikheid gebeur wat in alle geestelikhede buite die geloof in Christus gebeur: alle geestelike is ʼn handelsbedryf met en van God. In die heilige van die tempel word met God as handelaar handelgedryf oor God en wat Hy doen. Hy word as handelsitem bedryf en so word sy krag, sy seën, sy liefde en goedheid verhandel vir liefde, bekerings, toewyding, oorgawe en onderhorigheid. Hierdie is die handelgedryf van die moderne Godsbedryf waar mense met God self oor God handeldryf: mense gee vir God wat Hy wil hê omdat Hy vir hulle gee wat hulle wil hê. Christus het gekom om hierdie godsbedryf te vernietig, nie om hierdie godsbedryf reg te kry of te suiwer nie. Christus skep in sy lyding en opstanding handelvrye aanbidding van God in liefde wat net liefde vir God is. Die tipe Jesus wat die Jode die middelpunt van die hele wêreld sou maak en die Jode die handelaar in die godsdedryf sou gemaak het: offers aan God vir God se lewe, krag, Naam, sorg, bewaring, vergifnis en versoening, is die godsbedryf van die moderne Christelikheid vandag

Lees of Aflaai

20150307 Die Here rus sy kerk toe met die krag van sy bedieningsmiddele

Inhoud Hierdie preek wys op die verskil tussen die toerusting om ’n getuie vir die Here te wees, en die toerusting van die Kerk met die Heilige Gees. Die prediking, sakramente en tug is die krag waarmee die Heilige Gees die Kerk van die Here toerus. Hierdie drie bedieningsmiddele is die kragtige instellings van die Here waardeur Hy mense, in Sy volle genade laat deel en hulle deur Sy genade regeer om in hulle volkome verlossing te leef. Die gawe waarmee die Here sy dissipels toerus om sy getuienis te wees, is hulle geloof in Hom. Dit is twee verskillende soorte toerusting. Die dissipels was deur die gawe van geloof in die evangelie, ten volle toegerus om die Here se getuies te wees. In hulle geloof in Sy lyding en opstanding, deel die dissipels die volle verlossing van en deur die vergifnis van sonde. Naas hierdie magsdaad van die Here op die Sondagaand, waarin Hy hulle met Hom verenig en in hulle die kennis en vertroue skep as Here, is daar geen ander geestelike ervaring met die Here wat hulle meer verlos, meer gelowig en meer gehoorsaam aan die Here gemaak het nie. Die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag het niks toegevoeg aan hulle geloof en gehoorsaamheid aan die Hom nie. Dit het drie nuwe bedieningsmiddele toegevoeg aan die kerk wat die kerk nooit voorheen gehad het nie. Om te getuig vir die Here kan daar nooit weer ’n wag-opdrag wees nie! Die kerk is eenkeer vir altyd met die bedieningsmiddele van die prediking van Christus, die tekens van Christus en die tugtiging na Christus toegerus. Net so min as wat die Kerk eers weer moet wag dat die Here moet ly, gekruisig word, dood moet gaan, begrawe moet word en uit die dood moet opstaan om na die Hemel op te vaar, net so min sal die Kerk van die Here ooit weer hoef te wag vir die toerusting van die Kerk!

Lees of Aflaai

20150301 God skaam Hom nie om ons God te wees nie. Daarom skaam ons onsself vir sonde

Inhoud Die diepste greep van sonde en die mag wat die mens die mens van God vervreem, is skaamte. Die diepte van skaamte is die vrees dat God Hom vir my skaam. Skaamte gaan oor die werklikheid dat my Skepper vir my as mens skaam is vir wie en wat ek is, en dat Hy skaam is om my God genoem te word. In die afgodsdiens van die moderne Christelikheid verkondig hulle ʼn nuwe god: hierdie god het skaamteloos geword vir sondaars in hulle sonde. God het nie meer ʼn afkeur in die sonde van sondaars nie. Hy self het ʼn skaamtelose God geword. Met hierdie nuwe skandegod omhels mense hulle eie onheiligheid, om skandelike drifte as ware liefde te glo. Christus het in ons plek mens geword om die skaamte van ons verwronge liefdes, ons misplaasde liefdes en ons skewe liefdes op Hom te neem sodat Hy ons onheiligheid met sy heiligheid as mens kan bedek. In sy barmhartigheid bedek Hy ons skaamte en maak ons weer innerlik verbonde aan liefde wat liefde en nie begeertes is nie. So help Hy ons uit ons skaamte om trots mens vir God in heiligheid te wees.

Lees of Aflaai

20150228 Die Here roep sy dienaars om oor Christus te getuig, nie om oor hulle geestelike lewe te preek nie

Inhoud Hierdie preek wys op die verskil tussen ware predikers van die evangelie en valse predikante. Predikante wat die lewe van Christus in sy geboorte, lyding, kruisiging, sterwe en opstanding verkondig, is getuies van die Here. Predikante wat hulle eie lewensverhaal aan gemeentes voorhou is valse predikante. Paulus wys hoe dit verkeerd is om jou eie lewensverhaal ʼn middel te maak waardeur God sy genade sou bewerk deur self te roem in sy eie geestelikheid, maar dit dan dadelik as dwaasheid uit te wys. God gebruik nie sulke geestelike verhale oor mense om mense deel van sy genade te maak nie. Dit is alleen deur die verkondiging van die Here se lewe dat God mense met Christus verenig. Daarom mag ʼn leraar nooit hom self aan lidmate voorhou asof lidmate in en deur sy lewe nader aan God sal kom of enige heilservaring sal beleef nie. Hy mag nie sy eie geestelike lewe voorhou asof dit ’n heilsmiddel is waardeur God werk nie. Hy moet ook in sy leiding aan die kerkraad hierdie dwaasheid uit die kerkraad en byeenkomste van die gemeente weer.

Lees of Aflaai

20150222 Gelowiges gehoorsaam Christus as Here, ons volg nie geestelike leiers na nie

Inhoud Hierdie preek wys wat is die verskil tussen die gesag van Jesus as Christus en Here teenoor die gesag van geestelike en morele leiers. Net Christus sit aan die regterhand van God terwyl geestelikes altyd op die stoel van Moses sit. Christus se gesag is om die las van die wet van God self op Hom te neem en die oordeel en eis om heiligheid self te dra. Geestelikes se gesag is om die wet van God se liefdeseis self op mense te plaas en self die oordeel van liefdeloosheid van hulle te eis. Met hierdie voorbeeld wat hulle stel, bind hulle altyd skuld-, oordeel-, vloek- en verwerpingslaste op hulle volgelinge. Christus verwerp hulle gesag om voorbeelde te wees want hulle vertoon van geestelikheid en moraliteit sal altyd iets anders wees as gehoorsaamheid aan die wet van God en sal altyd ʼn uiterlike vertoon wees van simbole waarvan hulle die leermeesters is. Hulle vertoon is nooit gehoorsaamheid aan God se wet nie. Die kerk van die here luister nie net na geestelike rolmodelle nie. Die Kerk van die Here luister onbevange na enige mens, ongeag sy posisie of eie geestelike lewe, indien hierdie persoon wys hoe God se Wet gehoorsaam moet word.

Lees of Aflaai

20150207 En enigiets wat ‘n mens nie uit geloofsoortuiging doen nie is sonde (Troue JG en Magda de Lange)

Inhoud Die werklik saak waaroor die koningskap van Christus gaan, die belangrike saak van die koninkryk is om in die gawe dat ons en ons liefde vir God reggemaak is, in die vrede en blydskap van liefde wat nie verwerp word nie, te kan leef en die Here te kan dien. Gelowiges ontdek mekaar as mense binne hierdie gawe van God – liefde wat God reg laat wees in Christus. Wie ingestel is op hierdie gawe van God en wat hierdie gawe ons vir God laat wees, onderskei tussen onbelangrike en belangrike sake. Belangrike sake is die regte liefde waarin God ons laat leef: die liefde van Christus volgens die Wet van die Here. Dit is die sake waarin ons mekaar as reg vir God vind en ontdek. Daarom doen Paulus die beroep op gelowiges om nie onbelangrike sake dieselfde waarde te gee as hierdie regte saak nie: om deel te wees van die gawe van reg-gerekende liefde, ten spyte van eie gebroke en halfhartige liefde. Daarom kan gelowiges in onbelangrike sake met mekaar verskil, soos régtig verskil ook in die huwelik.

Lees of Aflaai

20150201 Christus se liefde vir ons verbind ons tot liefde wat dink en doen

Inhoud Hierdie preek wys op die verskil tussen Christelike liefde en goddeloses se goddelike liefde. Christelike liefde is altyd liefde wat dink en doen, liggaamlik doen en verstandelik bedink. Christelike liefde is meningsvormend, waardebepalend en verantwoordelik. Christelike liefde is nie ’n misterieuse onbekendheid of ’n geestelike ervaring wat nie as liggaamlike daad geken mag word nie. Goddeloses het anders lief. Wêreldse liefde is liefde wat nie bedink en gedoen word nie. Wêreldse liefde is altyd een of ander geestelike ervaring waar jy nie mag dink of doen nie. Hierdie wêreldse liefde word vandag in afgodsdiens “oorgawe” aan God genoem. Hierdie oorgawe beteken jy moet “niks vir God doen” nie. Hierdie “niksdoen” is glad nie geloof in die Evangelie nie. Geloof is nooit “niksdoen” nie. Geloof is om God te ken in Sy liefde, en ook mense te ken in hulle liefde. Geloof is om God te vertrou vir Sy liefde, en ook mense te vertrou vir hulle liefde.

Lees of Aflaai

20150125 God stuur ons deur storms deur na sy bestemming vir ons

Inhoud Hierdie preek wys dat die wyse waarop die owerheid Christene se lewe beïnvloed deur hulle as misdadigers te brandmerk terwyl hulle diensbaar probeer leef, nie hul bestemming kan verander nie. God bepaal ons bestemming in sy diens. Hy is die skeepskaptein wat ons gekies het vir die vrag wat ons moet dra en hawe waarheen Hy ons met die vrag neem. In hierdie openbare geweld teen ons mag ons nie toegee aan die kollektiewe skuld waarmee die owerheid en geestelikes ons van ons roeping wil vervreem nie. Ons moet bly leef met die heerlikheid: “Ek het ’n vrag!”, “Ek het ’n hawe, ’n bestemming” en “Ek het ’n kaptein wat my deur die storms stuur.”

Lees of Aflaai