Spieelbeeld ontkleedans op Weesgerus

ONTKLEEDANS OP WEESGERUS

Hy is ʼn Vendapredikant. Die onrustigheid wys in sy heen en weer skuif in die stoel. Daar is iets van ʼn onbegrip vir sy eie mense.

Die kinders waar hy bly aanvaar glad nie meer die gesag van die kaptein wat hy weet belangrik is vir sy gemeenskap nie. Hulle hoon hom omdat hy nie die een is wat water en elektrisiteit voorsien nie. Hulle het ʼn ander versorger gevind. Met denims en gel het hulle hul bo die tradisies wat in die stamkaptein beliggaam is, verhef.

Die “civics” het hulle self bemagtig met grade teenoor die gemeenskap van waaruit hulle kom, ʼn gemeenskap wat hulle nie vertrou vir die dienste wat die stamkaptein lewer nie. Hulle minagting vir hierdie hutgemeenskap leef in die onmag van hulle bemagtiging. Bemagtiging wat geen gesag inboesem nie.

Die jeug drentel werkloos met selfone in verligte strate rond terwyl hulle ouers in onbegrip teruggetrek het teenoor ʼn polisiemag wat die kinders teen die gesag van hulle ouers beskerm. Dit is nou die grys ou manne wat die beeste oppas tussen die grondstrate, nie meer die kleintjies wat die verantwoordelikhede van die stam moet leer nie.

Die eenheid van die stam is besig om te verbrokkel binne die pluraliteit van die straatbendes.

Dit is in hierdie onbegrip dat hy effens verslae vertel hoe hulle eie kinders die ou vrouens wat met kleinstraatwinkeltjies drie geslagte uit die greep van die groot honger probeer hou, met messe doodsteek vir sigarette en koeldrank. Die polisie wat effektief is om die kinders te beskerm teen die geweld van die ouers, daag lank genoeg na die aanslag op oues op om nie aan die kinders blootgestel te wees nie. In papiere wat wegraak in die kantore kry die jeug hulle vryheid.

Die groenigheid van die mistieke mistige woude van Venda is ontklee tot die leegheid van ʼn Kaapse vlakte.

Ek staan voor hulle –kinderkranskinders. In ses jaar het die onrustigheid in hulle kom lê. Die kleinleiers tussen hulle wat altyd wou tevrede stel en behaag is stil. Tussen my en hulle lê ʼn kloof van verwyt. Die groep is bemagtig. Dis hoe hulle uit die skool kom. Elkeen moet praat. Elkeen moet alles wat hy voel en dink hardop uitleef. Dit maak hulle kreatief en ondernemend.

Dit maak hulle doof. Ek mag nie meer lesse gee nie. Ek moet vermaak en stimuleer. Die kleingroep is die gesag. Ek sien hoe die leiding en wysheid hulle verbygaan in die spel van kreatiwiteit en selfontplooiing. Ek sien hoe die wat wil weet en wil doen, stil is en wegraak in die geraas van hulle wat klein-klein die betowering van bemagtiging beleef.

In hulle klein-lawaai lê die belofte van wat ek vir hulle gaan wees as die krag van klein kliertjies hulle spiere gaan bemagtig in die stilte waar niemand meer vrae vra nie maar alles weet wat moet wees.

Hy sit voor my. Hy dra nog iets van die respek van die rang wat hy gehad het voor hy reggestel is. Selfverwyderd vertel hy hoe die plaasrooftogte toevallig elke keer vooraf gegaan word deur die roetine besoek van ʼn polisievoertuig, hoe die polisieman nie kon verduidelik hoekom hy in die ingebreekte motor met die radio wat uit die paneel geruk is op sy skoot sit nie, hoe die moordenaar elke keer net nie daar is as hulle in ʼn hoogs geheime polisie-operasie toeslaan nie.

Wat hy in verwondering vertel weet die boere klaar.

Wanneer die arbeiders jou aankla van seksuele teistering is daar twee tot drie polisie voertuie binne oomblikke op die toneel. As jy roof aanmeld is daar nie voertuie nie. Hulle weet van die gesag wat plek vir mag gemaak het.

Dis hoekom hulle nie meer Vrydagaande by hulle eie huise braaivleis hou nie. Dan moet jy die naweek in die selle wag tot Maandag-oggend voor die aanrandingsklag teen jou hanteer kan word.

In al die nuwe rekenaars, selfone, tegnologie, blink toonbanke en range wat in die polisiestasie skyn is daar ʼn dowwe gevoel van iets wat moes wees.

Ek ry na die sinode in sitting: die meerdere gesag van die gemeente wat ek moet bedien. Verby Pietersburg, wat nie meer mag wees nie, staan die honderde wit kruise op ʼn vaal heuwel buite die stad. Boere wat weggeraak het in die leegte van dit waarvoor hulle gestem het en dit wat hulle gekry het.

Weesgerus staan op die ingang. Weesgerus staan op die banier wat bo-oor die sinode hang terwyl sagte gospelmusiek die saal vul.

Ons is vooraf laat weet dat hierdie sinode anders gaan wees. Die woede op die vorige sinode het gewys toe die jonges opgespring en driftig geëis het dat die sinode sitting anders moet wees. Hulle jeugdige woede-drif is gedra deur die behaaglike glimlagte van die grys ou jeugdominee’s wat nie self praat nie.

Nou’s dit anders.

Die voorsitter vertel met gloed dat die era van mense wat die vergadering toespreek en probeer inlig, probeer wys op die inhoud en effek van besluite, is verby. Elkeen moet kan praat. Baie praat. Ons gaan nie meer na voorgangers luister nie. Ons gaan nou elkeen praat. In groepies praat. Hy verduidelik nie wie die vergadering gaan toespreek nie. Dit wys in die manier waarop hy die bemagtigde sprekers aanspreek.

Skielik word ʼn beeld deur nuwe silikon tegnologie op die nuwe skerm vertoon.

Die sinode lag.

Die voorsitter lag.

Dit is ʼn beeld uit die verlede. Die voorsitter wys dat dit is hoe die sinode-sittings in die verlede gelyk het. Mans met manelpakke, predikante met togas geklee.

Ek dink aan my oupa. Hy is ook op ʼn paar sulke foto’s. Hy was die drywer van die bakkerskar. Eers met perde, toe met petrol.

Hy kan vir sy kinders net twee stelle skoolklere voorsien: die een wat gewas word terwyl die ander gedra word. Hulle het elkeen net een stel goeie klere. Die drie seuns. Hy ook. Sy ook. Dit is vir Sondag, vir die kerk.

In hulle armoede en magteloosheid van die na-oorlogse jare was dit die kerk wat hulle geklee het. Wat die vreemde regering van hulle weggevat het, het die kerk vir hulle toegemaak. Hulle kon in die amp staan terwyl hulle nie ge-ag is om in openbare poste te dien nie. Dit was die taal en die boersheid. In hierdie amp kon hulle diensbaar wees terwyl hulle in die lewe gedienstig moes wees.

Uit dankbaarheid het hulle hul vir die Here geklee met die beste. Die spesiale klere is kerkklere. Vir Hom wat hulle kaalheid verberg het in ʼn wêreld wat alles van hulle gevat het om die gulsige masjiene van Europa te laat draai.

In hierdie amp het die arm mense van Germiston, Georgetown, spoorwegwerkers, myners en drywers kerk gebou. Eers in Georgetown. Toe in Elsburgweg. Die kerk was altyd die beste, die grootste en mooiste tussen klein eenvoudige huise. Uit die min wat die meeste was, het hulle die kerk instandgehou, in manelpakke en togas.

Die voorsitter lag.

Die sinode lag.

Ons hou nuut sinode. Dit is vooraf met briewe kennis gegee. Dis lekker op Weesgerus. Dis kerk op ʼn ontspanningsoord. Vir díe met pakke en baadjies word gelag. Díe met dasse word verdra.

Tydens die baie praat loop hulle rond. Dit vat ʼn rukkie om te sien. Die rondloop is wys. Hierdie een wys hy kan met ʼn T-hemp op ʼn sinode rondloop. Die snit pas nie by die boepens nie, maar sit perfek vir die houding. Die volgende een wys hy kan met ʼn kortbroek op ʼn sinode rondloop, al lyk dit saam met die skoene en kouse soos ʼn safaripak. Die ander wys dat ʼn snyerspakkortbroek met ʼn hemp wat uit ʼn boetiek kom, gaan saam met gewone verslonsde sandale. Dis die hoogtepunt! Nat uit die swembad op die sinode! Verontrus skud ek die ligte erotiese wys van nat boude af as ʼn misgissing. Dis tóg ʼn predikant op ʼn sinode!

Ek verstaan nie die sekuriteit wat naaktheid bring nie.

Die verslag gaan oor gemeentes wat toemaak: ryk mense wat nie meer die kerk kan onderhou nie.

Ons sit in komitee. Die voorsitter wys sy kortbroek en lae-halshemp. Hy verduidelik dat hierdie verslag gaan oor die amp. Ons moet nuut dink. In die vorige bedeling het mense gesien dat gesag iets is wat van bo kom. Dit was ʼn fout. Dit kom van onder. Ons moet wegdoen met alles wat wys dit kom van bo af. Hy verduidelik weer dat dit gaan om nuut te wees in ʼn nuwe bedeling. Dit moet bruikbaar wees, nie voorskriftelik nie. Hy praat op die bekende manier tussen predikante in die nuwe bedeling. Die lidmate moet die Here in ons gewone menswees raaksien, sê hy. Ons moet hulle probeer wys ons is soos hulle.

Ek voel stil-eensaam in die groep.

Dis asof ek te veel klere aan het. Hoe kan Christus verhoog wees aan die regterhand van God maar gesag kom van onder? Wat gee die koning soveel sekuriteit dat hy naak kan loop in die strate?

Iewers het ek eenkeer gehoor van ʼn poppespel waarin die poppe bevry wou word van die toutjies waarmee hulle van bo af beweeg word in ʼn poppespel. Bevry van die hand wat hulle beweeg.

Wat my veilig laat voel het, is vir hierdie predikante ʼn las wat hulle afskud. So stap ek toe met das en baadjie uit die kerkkomitee die koue in wat Noord uit Afrika kom, die nag binne, te bang om my met my eie naaktheid te bemagtig.

P.J. Kriel

Categories: Spieelbeeld