Hulpbronne in “In Gesprek”

ʼn Gespreksforum waar ons vry kan kommunikeer oor die inhoud van ons geloof in en ons gehoorsaamheid aan God!

Dit is en bly die krag van die Gereformeerde godsdiens – oop gesprek. Dit is hoe die Protestantse geloof gevestig is binne Europa: met oop gesprekke. Martin Luthers se vyf-en-negentig stellings was ʼn uitnodiging tot ʼn oop gesprek. Dit was nie ʼn uitdaging van die bestaande gesag of ʼn eiesinnige verklaring van voorneme teenoor die kerk en gemeenskap nie.

Die kerkdeur waarteen Martin Luther sy stellings vasgespyker het, was ʼn amptelike kennisgewingbord. Die opskrif van Martin Luther se stellings van 1517 klink so: “Uit liefde vir die waarheid en in die verlange dat die waarheid in die lig gebring sal word, sal daar in Wittenberg oor die volgende stellings gesprek gevoer word onder die voorsitterskap van die gerespekteerde predikant, Martin Luther, wat in Wittenberg professor is met ʼn meestergraad in vrye kunste (MA graad in geesteswetenskap) en in teologie. Daarom versoek hy die persone wat nie self teenwoordig kan wees nie en nie met ons in persoon gesprek kan voer nie, om in hulle afwesigheid skriftelik met ons in gesprek te tree. In die Naam van ons Here Jesus Christus”

Die stellings wat hy op hierdie kennisgewingbord gesit het, het uitgeloop op die twisgesprek in Leipzig wat weereens ʼn oop gesprek was. Hierdie gesprek was teen die wens van die Roomse Kerk, maar afgedwing deur die Duitse owerhede, nie kerkrade nie. Op voorbeeld van hierdie oopgesprek het stadsrade, nie kerkrade nie, dorpe kans gegee om te luister na die geloofsaak van die Protestante. Na hierdie oop gesprekke waarin die keuse tussen Gereformeerd, Rooms Katoliek en Anabaptisme aan almal voorgehou was, het gemeenskappe besluit tot watter geloof hulle behoort.

Die Rooms Katolieke Kerk wou van die begin af hierdie oop gesprekke stopsit. Hulle wou geen gesprek gehad het nie, net onderworpenheid aan die besluite van die priesters, kardinale en die pous.

In ons gemeenskap is ʼn oop gesprek net so moeilik.

Lidmate word nie ingelig oor die inhoud van die Gereformeerde geloof in onderskeid van die moderne Christelikheid nie. Hulle moet net tot bekering kom, vernuwe en hulle self oorgee aan die Heilige Gees. Geloofsinhoude word nie in oop gesprekke getoets en uitgedra nie. Mense word met herlewings, vernuwings en oplewings opgerui en geïntimideer deur geestelikes en nuwe verligte denkers.

Die lidmate wat nie hulle aan hierdie bekerings en oorgawes onderwerp nie, word uitgestoot as Christene wat nog nie waarlik die Here ken nie, nie ernstige Christene is nie, nie deel is van die vernuwende, transformerende werking van God nie, nie denkende Christene is nie of nie met die Heilige Gees vervul is nie. Hierdie vroomheid en verligtheid vra oorgawe, nie oop gesprek nie.

In die media, selfs in die Kerkbode van die NG Kerk, is daar ook nie in die algemeen meer ʼn oop gesprek binne die geloof in die Here moontlik nie. Hierdie media het gekies vir die geloofsoortuigings en waardes van ʼn liberale demokrasie.

In hierdie geesteshouding het hulle klaar besluit die Christelike Kerk moet inpas en aanpas binne die geloof en waardes van die nuwe Suid Afrikaanse staat, soos dit deur liberale demokrate gesien word.

Die NG Kerk, by name, word in sy Gereformeerdheid voorgehou as ʼn struikelblok vir vryheid, versoening en demokrasie. Die geloofsmening van die kerk in sy Gereformeerdheid word onderspeel vir geesteshoudinge wat hulle vry gemaak het van die geloof- en lewenshouding van die kerk van die Here.

Met hierdie gesprekforum wil ons graag die ruimte skep om weer binne die geloof in die Here ‘noop gesprek te voer.

Voel u self welkom om vrae en mening per epos aan die webblad se adres te rig – info@ngkerklevubu.co.za

2016.07.22 Hoe Christene en Afrikaners nou Africans moet word

Een van die motiverings vir die bywoning van die massademonstrasie van 11 Junie 2016 in Soweto is dat Christene moet demonstreer hulle is nou “Africans”. Hierdie nuwe geestelike kulturele indentiteit word as die bekering voorgehou wat die nuwe grondslag van ‘n nuwe gemeenskap in die land moet wees. Hierdie nuwe geestelike identiteit word gesien as die wyse waarop die land vredevol en welvarend sal word. Hierdie visie word hier aangespeek.

Lees of Aflaai

2011.02.01 Kerkregtelike en kerkordelike hantering van die geloofsafwyking in die verslag van die ADGO in sake doop en doopsviering gerig aan die ASM

Die kerndwaling in die NG Kerk oor die doop is dat bekering verkondig word as wyse waarop jy gered en vergewe word. Dit is in stryd met die NG Kerk se geloofsbelydenis dat jy alleen deur geloof in die evangelie gered en vergewe word en dat bekering net uit dankbaarheid is. Daarom soek die kerk altyd maniere om die herdoop te akkomodeer sonder dat dit ‘n herdoop is. Na die mislukte poging om ‘n sogenaamde bekeringsdoop naas die sogenaamde verbondsdoop in die kerk te regverdig, het die NG Kerk het besluit om rituele vieringe in te stel vir die opstanding van die nuwe en afsterwe van die ou mens, soos bekering in sy belydenis beskryf word. Daarmee het die NG Kerk die genoegsaamheid om hierdie opstanding van die nuwe en afsterwe van die ou mens in ‘n eenmalige doop te bevestig, ontken. Daarmee het die NG Kerk ook sy eie belydenis dat alle rituele naas die doop en nagmaal afgeskaf is, oortree. Die kerkraad van Levubu het hierdie geloofsafwyking in hierdie besluit aangespeek. Die genoegsaamheid van die doop teenoor nuwe rituele vieringe vir alles wat in die doop eenmalig bevestig word, het nooit deel van die kerklike debat geword nie.

Lees of Aflaai

30.04.2001 Brief vir die moderamen Noord Transvaal oor nagmaalsbeoefening teen die inhoud van die geloofsbelydenis van die kerk

Hierdie brief het ‘n oop gesprek aangevra oor die instel van ‘n nagmaalsbeoefening in die NG Kerk wat teen die NG Kerk se geloofsbelydenis oor die betekenis van die nagmaal is. Hierdie gesprek het nooit plaasgevind nie. Binne die spiritualiteit van die moderne Christelikheid kan daar nie oor die inhoud van geloof en die Woord ‘n gesprek plaasvind nie. Moderne Christelikheid gaan oor ‘n driftigheid om met God te identifiseer, nie om sy Woord te gehoorsaam nie.

Lees of Aflaai

2001.04.30 Brief aan die dagbestuur van die Sinode van Noord Transvaal oor misplaasde beeld van lidmate in VAM beleid

DIe krag van die Reformasie is ‘n oop gesprek binne die geloof in Christus. Die krag van die moderne Christelikheid is ‘n goddelike visie en missie waarin geen geloofsgesprek moontlik is nie. Hierdie brief wou die gesprek oor lidmate se posisie binne die visie van die NG Kerk as die nuwe staatskerk aan die orde stel. Dit het nooit gebeur nie. Die saak wat in 2001 hierin aangespreek is, is in 2016 nou die “missionale” visie van die NG Kerk waarin al sy werksaamhede moet inpas: lidmate moet ‘n vrywillige arbeiderskorps wees vir Afrika.

Lees of Aflaai

1998.05.15 Die wyse waarop die heil in Christus aanvaar word. ‘n Oop gesprek

In 1984 het die kerkraad van Levubu die bekering as wyse van die aanvaarding van die heil in Christus uitgewys as die rede vir die herdoopprobleem wat toe in die gemeente ‘n krisis was. In 1989 het die kerkraad ‘n werkstuk aan elke lidmaat gegee oor die onderskeid, inhoud en werking van die wet en die evangelie. Dit het in die Ring van Louis Trichardt tot ‘n gesprek tussen ds. PJ Kriel en dr. Phillip Venter gelei wat die twee botsende standpunte binne die NG Kerk aan die ringspredikante gestel het: redding deur geloof alleen teenoor redding deur die inisieele bekering. Op inisiatief van ds. Albert Cruywagen is hierdie gesprek toe in die teenwoordigheid van dosente van die fakulteit gevoer op 15.05.1998. Die Ring het op 15.08.1998 die standpunt aanvaar dat redding alleen deur geloof aanvaar word en dat die aanvaarding van die heil deur geloof en bekering ‘n geloofsdwaling is. Daarmee het die Ring van Louis Trichardt die sogenaamde inisieele bekering van dwaling verwerp. Dit het die kerkraad van Levubu 14 jaar lank gevat om so oop gesprek binne die NG Kerk te beding. Hierdie geloofsdwaling van die sogenaamde inisieele bekering bly die kern van die NG Kerk se huidige verwarring waarin kunsmatige uitkomste gesoek word sonder die oop gesprek oor die verskil tussen geloof en bekering.

Lees of Aflaai

1997.09.15 Beskrywingspunt aan sinode van Noord Transvaal oor gespreksinhoude oor die kindernagmaal.

DIe instel van die kindernagmaal in die NG Kerk was die wegbeweeg van die geloof in Christus wat vandag mens in die hemel is na ‘n ‘n spirituele Christus. Dit het die nagmaal van ‘n sakrament wat ons eenheid met die menswees van die Here in die hemel vandag verseel, verander na ‘n spirituele seremonie. Die nagmaal is op hierdie wyse verander van ‘n genademiddel na ‘n spirituele godservaring, onder die voorwendsel dat dit oor die regte van kinders gaan. Dit was ‘n openlike breuk met die geloofsinhoud van die NG Kerk in sy belydenisse. Die persone wat hierdie saak aangevoer het, het hierdie breuk verduister deur doodeenvoudig net die inligting oor die Reformatore se standpunt oor die kindernagmaal van die kerklike gemeenskap te weerhou. Hierdie voorstel was ‘n poging om die inhoude van Calyn, en ander Reformatore, deel van die gesprek te maak. Dit het nooit gebeur nie. Hierdie spirituele nagmaal het hom toe later gewreek in die spirituele opvatting van prof. Muller oor hoe Jesus se werklike volledige menswees, na liggaam en siel, vandag, vir die geloof onbelangrik sou wees. In die kindernagmaal is die NG Kerk gelei om hierdie geloof in Christus se menswees vandag, na liggaam en siel, te verlaat as onbelangrik vir die nuwe spirituele godservarings.

Lees of Aflaai

1997.01.15 Die ideologie van “regstellende aksie” deur die regering as sonde teen die Woord van God.

Hierdie voorlegging was ‘n poging tot ‘n oop gesprek oor die ideologie van regstelstellende aksie volgens die geloof en waardes van die NG Kerk. Die kommissie het hierdie voorlegging ter syde gestel en die Sinode van Noord Transvaal bedien met riglyne oor hoe regstellende aksie “Christelik”bedryf moet word. Die sinode het toe hierdie riglyne goedgekeur as riglyne vir die owerheid. Dit is omdat die sinode hulle self nog as staatskerk sien wat aan die regering die riglyne gee van hoe hy moet optree. Die misgissing met die godloosheid van owerheid en die uitgediende rol van die NG Kerk as staatskerk bly die NG Kerk ontwyk. Hy wil in die geestelikheid van die moderne Christelikheid staatkerk wees. In hierdie selfaangestelde posisie is die NG Kerk medeskepper van die ellendes van regstellende aksie. Binne die magsdrif om staatskerk te wees kan daar geen oop gesprek oor die godloosheid van die owerheid wees nie.

Lees of Aflaai

1994.10.10 Die grondbeginsels van die Gereformeerde identiteit in teenstelling met huidige geestesstrominge

Hierdie dokument was ‘n poging van ds. PJ Kriel in 1994 om ‘n oop gesprek oor die Gereformeerde identiteit van die NG Kerk binne die Noord Transvaalse Sinode aan die gang te kry. DIe Leer en Aktuele sake kommissie van die Sinode het gestem om hierdie poging van die Sinode te weerhou. Hulle het die beleid van diverse spiritualiteite aan die Sinode voorgehou. Die Sinode het hierdie rigting gevolg. Lede van hierdie kommissie het verteenwoordigers en beskermhere van die Rooms Katolieke mistiek en seremoniele geestelikheid binne die NG Kerk geword.

Lees of Aflaai