Hulpbronne in “Brandpunte”

Een tree vorentoe, twee tree agteruit! Dit is die wyse waarop die NG kerk reformeer: een tree vorentoe: ons is Gereformeerd, twee tree agteruit: ons moet vernuwe! Dit het ʼn persoon soos dr. Manie Malan al oor die brandpunte van die moderne Christelikheid, oftewel afgodsdiens, in die NG Kerk uitgewys.

Dit is die brandpunte in die NG Kerk: die geloof in en gehoorsaamheid aan God moet vernuwe word in die kerk en samelewing. Vernuwe is Gereformeerd, want Gereformeerd beteken om altyd te verander, sê die vernuwingsgeeste in die NG Kerk.

Dit is nie waar nie.

Gereformeerd is die woord waarmee gelowiges in en uit die Reformasie erken dat hulle geloof en lewenswyse deur God se woord geskep en gevorm word, binne in hulle. Dit wys ook op ʼn lewenshouding waarin ons alles wat ons glo, bely, dink, voel, doen en ervaar – verander, uitlos, ondergeskik stel aan of ter syde stel en vir die inhoud en werking van die Woord van God.

Om Gereformeerd te wil wees beteken dat ons nie sommer net alles as geloof aanvaar wat ons in onsself wíl glo nie, nie sommer net alles wat ons dink as kennis oor God aanvaar nie, nie sommer alles wat ons in onsself voel as die werking van God se Gees herken nie, nie sommer alles wat ons doen as gehoorsaamheid aan God regverdig nie en nie sommer alles wat ons ervaar as gemeenskap met God beleef nie.

Wat God ons laat glo, bely, dink, voel, doen en ervaar, doen Hy deur sy Woord en daarin kan ons sy werking onderskei van ons eie sondige innerlike waaruit ons weet net afgodsdiens kom.

Die moderne Christelikheid in die NG Kerk vervang hierdie Gereformeerde lewenshouding met ʼn nuwe alternatiewe geestelikheid: transformasie, wat hulle ook vernuwing noem.

Transformasie is om ons natuurlike bygeloof, eiesinnige belydenisse oor God, selfgemaakte gedagtes oor God, impulsiewe gevoelens oor God, gewaande aksies vir God en self-ervarings in God, wat alles uit ons sondige drif kom, in God se Woord in te leef as die dieper en inniger bedoeling van God self.

Hierdie transformasieproses, waarin alles in God se Woord verander word volgens ons selfinlewing in God en in sy Woord in, is die proses waarin die NG Kerk in sy geloofsbelydenisse en geloofsgehoorsaamheid nou al vir dekades verander en omvorm word.

Transformasie beteken om die Gereformeerde lewenshouding te vernuwe. Dit is ook die die nuwe transformasiedrif wat in die plek van ʼn Christelike samelewing ʼn nuwe alternatiewe godsdienstige samelewing wil skep.

Elke keer stig hierdie transformasiedrif nuwe brandpunte waarin hulle die geloof en lewe van die kerk in sy Gereformeerdheid omvorm en vernuwe na afgodsdiens. Elke keer as die kerk een vuur doodkry, met pyn en moeite, word ʼn nuwe vuur aangesteek: wedergeboorte en herdoop, spreek in tale, gawes van die gees, bekering, vervulling met die Gees, geloofsgenesing, getuie-wees, herlewing, uitdryf van duiwels, nuwe gebede wat meer seën kan bring as die “Ons Vader”, kindernagmaal, die omgang en gemeenskap met engele, bekeringsdoop, seremoniële godsdiens, lofprysing, spiritualiteit, leierskap, gemeentebestuur, die verandering van geloofsbelydenisse na spirituele verklarings en die transformasie van losbandigheid na liefde deur die regverdiging van homoseksualiteit, e.a.

Na elke brandpunt is die kerk net dieper in die afgodsdiens, meer wetteloos, verder van die Woord van God en God self. Een tree vorentoe: ons moet reformeer! Twee tree agtertoe: ons moet vernuwe!

Met hierdie afdeling “Brandpunte” wil ons die inhoud van die Gereformeerde geloof in God en gehoorsaamheid aan God stel teenoor die transformasie van die kerk en samelewing in afgodsdiens.

Wil ons wys wat is die verskil tussen om te reformeer uit die Woord en volgens die Woord, en om te vernuwe uit ons selfervarings. Dit is twee heeltemal verskillende sake.

Daarom stel ons nie sommer net gewone aktuele sake aan die orde nie. Dit is sake waarin die transformasie van God, sy kerk en sy wêreld as die eintlike bedoeling van die brandpunt aan die orde gestel word.

In hierdie sake wil ons die verskil van Gereformeerd-wees en transformasie, dit is, vernuwing, uitwys, aan die orde stel en verantwoord aan die inhoud van die Woord van God.

Ons wil nie maar net rondhardloop en elke vuur doodslaan nie. Ons wil agterkom wie steek hierdie vure aan en hoekom wil hulle ons agter vure aan laat rondhardloop terwyl ons wil plant en versorg.

2008.02.26 Die navolging van Christus deur lidmate in teenstelling met die nabootsing van God deur geestelike leiers

In hierdie dokument kry u die standpunt van die NG Kerkraad Levubu wat ingeneem is toe die Algemene Sinode leraars wou verplig om as voorgeskrewe plig God na te boots, in plaas daarvan dat hulle Christus moet navolg. U kry ook die volledige weergawe van hoe die kerkraad homself met hierdie standpunt kerkregtelik moes handhaaf teen die druk om hulle aan die mag van die geestelikheid van die moderne Christelikheid kerkordelik te moes onderwerp. Met hierdie verset het die kerkraad die druk om later die Belharbelydenis te moes aanvaar, omdat lidmate die predikante as geestelike bemagtigde leiers moes naboots, afgeweer.

Lees of Aflaai

GEMARGINALISEERDE GEESTELIKES PROBEER Ñ NUWE MAGSBASIS KRY VIR HULLE UITGEDIENDE WIT EN SWART BURGERLIKE VERSOENING.

‘n Verkenning van die massademonstrasie van wit Afrikaners en swartes wat die NG Kerk se bemagtigde leiers beplan op 11 en 16 Junie 2016 om hul self as die nuwe versetleiers te posisioneer teen die regering

Lees of Aflaai

02 brandpunte Die bekeringsdoop

Jesus is nooit met ʼn bekeringsdoop gedoop nie. Daarom kan ʼn mens nie jou bekeringsdoop regverdig met die doop van Jesus nie. Jesus se doop is nie ʼn voorbeeld van hoe ons met water gedoop word nie. Dit is hoe die Here begin om die plek van sondaars in te neem as sy werk.

Lees of Aflaai

03 brandpunte Hoekom die woord regverdigmaking in die Bybel nie met vryspraak vertaal kan word nie

Christus maak ons regverdig deur ons te laat deel in wie Hy as mens is en wat Hy vir ons gedoen het. Jesus was nooit vrygespreek nie. Daarom kan Hy dit nie met ons deel nie. Die vertaling “vryspreek” maak regverdigmaking ʼn verklaring sonder gemeenskap met Christus.

Lees of Aflaai

04 brandpunte Optimale gehoorsaamheid en homoseksualiteit

Met die debat oor homoseksualiteit wil die kerk ʼn nuwe tipe gehoorsaamheid as regverdig: optimale gehoorsaamheid, die bes moontlike gehoorsaamheid binne en volgens my sondige geaardheid. Dit vervang die volkome gehoorsaamheid waartoe God se genade ons verbind.

Lees of Aflaai

05 Jesus Christus en genesing

Hierdie dokument het op 12 Augustus 2000 voor die ring van Louis Trichardt gedien om geloofrigting te gee onder die druk wat die Charismatiese pelgrimstogte na die Nigeriese genesingsherlewings onder leiding van TB Josua op die gemeentes geplaas het.

Lees of Aflaai

06 1984.09.25 Die doopsondersoekkommissie verslag van die kerkraad van Levubu

Hierdie verslag het die werklike oorsaak van die herdoopprobleem binne die NG Kerk uitgewys: die tipe bekering wat die NG Kerk self verkondig om God se genade sou te ontvang. Dit is die eerste keer wat die teenstelling geloof en valse bekering gemaak is.

Lees of Aflaai

07 1986.08.19 Levubu gemeentebouverslag uitgestuur aan alle NG Kerkrade besluit 36.1.2

Hierdie verslag het die eerste keer in die NG Kerk die twee geestelike ervarings van die moderne Christelikheid as deel van die NG Kerk se eie bediening uitgewys en as ʼn valse geestelikheid uitgewys.

Lees of Aflaai

08 Die versplintering van die gedroomde nuwe staatskerk

Die bemagtigde leiers in die NG Kerk wou die NG Kerk weer die staatskerk van die land maak nadat hulle die NG Kerk as volkskerk eers bedryf het. Dit was die bedoeling van die aanvaarding van die Belharbelydenis. Dit was in hierdie artikel ontmasker gewees.

Lees of Aflaai

09 Staatskerk droom versplinter

Hierdie is ʼn bondige weergawe van 08.

Lees of Aflaai