In Gesprek

ʼn Gespreksforum waar ons vry kan kommunikeer oor die inhoud van ons geloof in en ons gehoorsaamheid aan God!

Dit is en bly die krag van die Gereformeerde godsdiens – oop gesprek. Dit is hoe die Protestantse geloof gevestig is binne Europa: met oop gesprekke. Martin Luthers se vyf-en-negentig stellings was ʼn uitnodiging tot ʼn oop gesprek. Dit was nie ʼn uitdaging van die bestaande gesag of ʼn eiesinnige verklaring van voorneme teenoor die kerk en gemeenskap nie.

Die kerkdeur waarteen Martin Luther sy stellings vasgespyker het, was ʼn amptelike kennisgewingbord. Die opskrif van Martin Luther se stellings van 1517 klink so: “Uit liefde vir die waarheid en in die verlange dat die waarheid in die lig gebring sal word, sal daar in Wittenberg oor die volgende stellings gesprek gevoer word onder die voorsitterskap van die gerespekteerde predikant, Martin Luther, wat in Wittenberg professor is met ʼn meestergraad in vrye kunste (MA graad in geesteswetenskap) en in teologie. Daarom versoek hy die persone wat nie self teenwoordig kan wees nie en nie met ons in persoon gesprek kan voer nie, om in hulle afwesigheid skriftelik met ons in gesprek te tree. In die Naam van ons Here Jesus Christus”

Die stellings wat hy op hierdie kennisgewingbord gesit het, het uitgeloop op die twisgesprek in Leipzig wat weereens ʼn oop gesprek was. Hierdie gesprek was teen die wens van die Roomse Kerk, maar afgedwing deur die Duitse owerhede, nie kerkrade nie. Op voorbeeld van hierdie oopgesprek het stadsrade, nie kerkrade nie, dorpe kans gegee om te luister na die geloofsaak van die Protestante. Na hierdie oop gesprekke waarin die keuse tussen Gereformeerd, Rooms Katoliek en Anabaptisme aan almal voorgehou was, het gemeenskappe besluit tot watter geloof hulle behoort.

Die Rooms Katolieke Kerk wou van die begin af hierdie oop gesprekke stopsit. Hulle wou geen gesprek gehad het nie, net onderworpenheid aan die besluite van die priesters, kardinale en die pous.

In ons gemeenskap is ʼn oop gesprek net so moeilik.

Lidmate word nie ingelig oor die inhoud van die Gereformeerde geloof in onderskeid van die moderne Christelikheid nie. Hulle moet net tot bekering kom, vernuwe en hulle self oorgee aan die Heilige Gees. Geloofsinhoude word nie in oop gesprekke getoets en uitgedra nie. Mense word met herlewings, vernuwings en oplewings opgerui en geïntimideer deur geestelikes en nuwe verligte denkers.

Die lidmate wat nie hulle aan hierdie bekerings en oorgawes onderwerp nie, word uitgestoot as Christene wat nog nie waarlik die Here ken nie, nie ernstige Christene is nie, nie deel is van die vernuwende, transformerende werking van God nie, nie denkende Christene is nie of nie met die Heilige Gees vervul is nie. Hierdie vroomheid en verligtheid vra oorgawe, nie oop gesprek nie.

In die media, selfs in die Kerkbode van die NG Kerk, is daar ook nie in die algemeen meer ʼn oop gesprek binne die geloof in die Here moontlik nie. Hierdie media het gekies vir die geloofsoortuigings en waardes van ʼn liberale demokrasie.

In hierdie geesteshouding het hulle klaar besluit die Christelike Kerk moet inpas en aanpas binne die geloof en waardes van die nuwe Suid Afrikaanse staat, soos dit deur liberale demokrate gesien word.

Die NG Kerk, by name, word in sy Gereformeerdheid voorgehou as ʼn struikelblok vir vryheid, versoening en demokrasie. Die geloofsmening van die kerk in sy Gereformeerdheid word onderspeel vir geesteshoudinge wat hulle vry gemaak het van die geloof- en lewenshouding van die kerk van die Here.

Met hierdie gesprekforum wil ons graag die ruimte skep om weer binne die geloof in die Here ‘noop gesprek te voer.

Voel u self welkom om vrae en mening per epos aan die webblad se adres te rig